default logo

Fases van die Lewe

Fases van die Lewe

Goeie more Oom Willie

“Hoe gaan dit oom Willie?” vra ek terwyl ek langs hom loop.

“Kan ek oom ‘n hand gee?” want oom Willie se loopraam het hy oor sy knieë gehak terwyl hy aanstoot met sy rystoel.

“Nee wat man, ek kom reg.

Dit gaan goed met my.

Dis nou net my bene. Hulle wil nie meer lank staan met my nie dan word hulle skoon bewerig. Dit voel soms of hulle wil beter word. Dit gaan goed. Ek het nie enige pyne nie, so dit gaan goed.”

Oom Willie is 93.

Ek kan oom Willie net verstaan as ek myself in sy rolstol kan voel. Die loopring oor my knieë gehak terwyl my hande die bietjie energie is vir die wiele is wat my vorentoe vat. Hoe kan dit goed gaan met oom Willie? Soos hy sê begin hy by wat nie goed is nie, maar hy sê dit kort en kragtig. Dan noem hy dankbaar sy lysie van dit wat hy wel het.

Sal hierdie werk vir my vriendin Pat? Sy het kanker. Haar onkoloog se vir haar sy het min dae oor om te leef. Sy kry swaar. Sy is seer en a.g.v. die hoë dosering medikasie slaap sy baie. Het Pat ‘n lysie vir goed voel?

Oom Willie en Pat maak hulle lysies! Beide van hulle doen wat hulle kan. Oom Willie dryf sy eie rolstoel. Pat stap af na haar woonvertrek toe, met hulp van haar man, met elke geleentheid wat sy kan. Moontlik dink hulle “Ja, ek is siek, maar …”

Beide Pat en oom Willie is in ‘n fase van hulle lewe waar hulle prioriteite anders was as toe hulle gesond was, of waar hulle 5 jaar gelede was. Hulle word ander eise gestel en hulle moet aan ander antwoorde dink in hierdie fase van hul lewe.

Die vergelyking met lewe as ‘n reis is nie nuut nie en kom in vele tale se gesegdes voor. Ook word daar gepraat van die padkaart van hierdie reis: sekere punte of stoppe wat gemaak word in die reis na ‘n eindpunt toe. Dit is juis hierdie “stoppe” wat mens maak wat hier bietjie onder die loep geneem gaan word.

Stoppe en fases kan as sinonieme van mekaar gebruik word, dink ek. Elke fase word gekenmerk deur eie vrae en eie antwoorde, maar soms mis ons die tekens vir ander vrae en ander antwoorde. Hier is drie aspekte ter sake:

  1. Breedweg is die eerste grootmens fase in ons lewe wanneer ons stry en baklei vir suksesvolle bestaan.

Werk, geld, motor, trou en kinders grootmaak word die middelpunt van ons aandag. Kinders wat die huis verlaat is dikwels meer ‘n “gebeurtenis” vir die ma as vir die pa, maar vir beide is hierdie ‘n oorgang wat spesifiek hulle verhouding raak: “wat maak ons nou met mekaar? Moet ek wat huisvrou is terugkeer na die arbeidsmark?”

Wanneer ons ‘n duidelike definisie het van “genoeg” dan is daar die volgende fase waar mens besig raak met rus, klein kinders, lief wees, opmaak vir dinge uit die verlede; verlies aan ‘n sielsmaat, vriende en dalk kinders, aan die dood. Meestal het ons nie duidelike definisies van genoeg nie. Al te dikwels bestaan “genoeg” nie eers in ons gedagtes nie, dan seil ons verby die stoppe waar ons moes asem skep en heroorweeg.

 

  1. Elke fase het sy eie vrae waarmee ek besig is.

Die vrae wat ek vra bepaal waarmee my gedagtes besig bly. Soos ek by die punt van “genoeg” kom in my lewe, dan sal mens begin vra oor “maar wat nou?” en/of “wat volgende?” Totdat mens by die vrae kom wat te doen het met “hoe” is vrae ongemaklik ervarings, want vrae laat mens dink, laat jou waardebepalings doen en krities kyk na die spore wat agtergelaat is. Dit kan maklik gebeur dat mens nie van hierdie antwoorde hou nie, en dit in die gesig moet staar met die wete: dis verby en onherroeplik.

Dis al te maklik om deur die seer van onvoltooide of onaanvaarbare ervarings oorweldig te word, in plaas van om dit te los waar dit hoort, naamlik, in die verlede. Die vrae word dan gevra asof die ervarings uit die verlede nie gelos moet word nie, asof dit steeds ‘n werklikheid is in die hier en nou, en elke vraag en aanklag het die snykant van ‘n stomp mes wat knaag.

As mens die ‘Die Christen se Reis na die Ewigheid’ sou lees sou dit wees asof die pelgrim Christen aanhoudend sou omdraai en sou terugbeur na waar hy vandaan gekom het. Maar nee, hy bly op die pad. Die volgende fase wag. Hy kan nie omdraai nie. Vorentoe is so onvermydelik soos doodgaan. Hy moet die regte vra begin vra, veral “hoe”-vrae. Hoe doen ek nou? Hoe doen ek dit? Hoe begin ek? Hoe maak ek dit moontlik? As ek dit wens, hoe begin ek om dit te laat gebeur as dit haalbaar is?

  1. Elke fase het sy eie antwoorde. Hierdie fase-antwoorde is soms goeie nuus, soms hartseer, en soms tye van bitter alleenheid.

Die eise van werk wat afstand tussen man en vrou meebring, werk kom eerste, al is die motivering ‘vir die gesin’, maar die gesin wil kontak hê, ma/pa se teenwoordigheid vir liefde, vir hulp, vir antwoorde. Eerste klein kinders, en hoe om met hulle besigheid te wees, hoe om oupa en ouma te wees is ‘n tipiese fase van sy eie.

Ongeskiktheid of siekte wat mens verplig om anders te leef, is ook ‘n fase van sy eie. Wat hierdie fases moeilik maak sou wees as mens die verkeerde “hoe” vrae vra en mens nie weet hoe om te leef in die nuwe fase nie.

Een baie algemene fout-vraag is dat mens nie jou vrae verander nie en jy aanhou die vrae vra van die vorige fase, asof dit nog van toepassing is. Die gevolg van sulke fout-vrae is dat mens fases kunsmatig verleng en jy uit pas uit raak met jou eie lewe. Dit is ook nou so dat nuwe fases sonder jou toestemming met jou gebeur: verlies van ‘n lewensmaat, egskeiding, gepaste ouderdom om ‘n tweede loopbaan te begin (afskuwelik genoem ‘aftree’ of die sinoniem ‘pensioen’) en dan is dit tog duidelik dat nuwe vrae gevra moet word, ‘n ander ‘hoe’ moet oor gewonder word vir die nuwe fase in mens se reis. Hopelik beplan mens vooruit, en begin vroegtydig dink aan “hoe doen ek dit as ek met my alleenheid moet saam leef, of met my siekte, of met my ouderdom?”

Een sekerheid waarvoor ons onsself kon voorberei is hierdie reis wat onvermydelik is. Soos in die boek ‘Die Christen se Reis na die Ewigheid’ is daar dinge wat agter gelaat (moet) word en die ontmoeting van nuwe mense met hulle eie dinge wat vir hulle belangrik is, nuwe wêrelde met ander woorde, wat ons binne tree.

Die reis of oorgang na hierdie nuwe wêreld is soms in sigself nie maklik nie, soos die pelgrim Christen wat deur die modder moet stoei en moet sterk staan om nie te verdrink nie. Wat ons laat aanhou op hierdie pelgrimsreis is dat ons op pad is na ons ewige huis toe.

Ons is op pad huistoe, al is hierdie tree van vandag só swaar, en voel ek so naby aan opgee. Ons is op pad huistoe al is vandag soos ‘n fees. Ons is op pad huistoe al dink ek in my verliefdheid dat ek al klaar aangekom het. Ons is op pad huis toe!

“Ons is almal besoekers aan op hierdie tyd, hierdie plek, op pad êrens anders heen. Ons doel is om te kyk (waar te neem), te leer, te groei en lief te hê, en dan gaan ons huis toe.” (Australiese wysheid).

  • Posted by Josef Coetzee
  • on October 28, 2019
  • Comments are off
  • Articles ,
Read More