default logo

Wat Glo Ons?

Wat Glo Ons?

2 Tim. 3:1 – 5, 10. Hierdie is nie Skrifuitlegging nie maar gaan net gebruik word as inleiding tot ‘n pastorale gesprek met die gemeente.

Wat Paulus skets is ‘n wêreldgelykvormige kerk tot ‘n baie groot mate in die laaste van die laaste dae. Swaar tye wat ook swaar tye vir die heiliges sal wees.

Sommige van julle het seker al gewonder presies wat gaan in die gemeente aan. Die afgelope drie jaar was daar ‘n koersverandering en het mense die vorige Sondagaand getuig en hulle het gepraat van die koersverandering wat daar gekom het en wat dit vir hulle beteken het en het onder andere gepraat van die Gereformeerde geloof of die “Reformed Faith” en uitdrukkings soos Godgesentreerde aksente en selfs die uitdrukking Calvinistiese aksente. Dit sal dalk goed wees as ons onsself afvra, wat kenmerk ons gemeente. Waarvoor staan ons. Wat het gebeur die afgelope tyd in ons lewe. Nou, ons briefhoof sê bv.: Antipas Baptiste Gemeente en dan is daar ‘n subtitel wat sê – ‘n gemeente van Reformatoriese oortuiging met die 1689 Baptiste Belydenis as opsomming van geloof.

Reformatories – wat beteken dit?

Wat is dan die Reformatoriese waarheid en die geloof waarvoor ons staan? Nico verwys dan na John de Wit se boekie “The Reformed Faith”.

Hoekom noem ons onsself ‘n Reformatoriese gemeente? Reformatories verwys terug na die sestiende eeuse reformasie; die meeste van julle is op hoogte daarvan dat die Here God in die sestiende eeu ‘n paar manne opgerig het wat reuse was in die kerkgeskiedenis. Mense met fenominale intellek, mense wat geweldig geleerd was en insig gehad het en ook van die Here die gawe gekry het om op te staan teen ‘n tradisie en ‘n kerklike instituut wat die voorafgaande duisend jaar in Europa geheers het, die Roomse Kerk. Ek praat van mense soos Luther en Johannes Calvyn, John Knox van Skotland en talle ander. Hierdie mense het teologiese insig gehad en het die diepgaande waarhede van die Woord weer ontdek en hulle het dieselfde waarhede begin preek wat in die eerste drie, vier eeue in die kerk gepreek is tot en met die tyd van Keiser Konstantyn. Van Keiser Konstantyn af het dinge liederlik skeef geloop in die kerk. Dit het aanleiding gegee tot wat ons vandag die duister, donker eeu van die middeleeue noem. Hierdie Reformatore het weer die Evangelie van die vroeë kerk begin preek. Hulle het weer die evangelie van die apostel Paulus en van die Here Jesus en die vroeë apostels verkondig. Hulle het weer na die Woord toe teruggegaan.

Ons moet dit nie koppel aan een of twee teoloë nie. Vandag het hierdie oortuiginge wat destyds gepreek is, bekend geraak met die naam Calvinisme en ek is baie versigtig vir hierdie woord omdat Johannes Calvyn absoluut hom daarteen sou verset dat hierdie waarhede gekoppel word aan sy naam. As ‘n mens sy biografie lees weet jy dat hy ‘n baie nederige man was en wat daarop aangedring het dat hy bv. in ‘n onbekende graf begrawe moes word. Hierdie begrip “Calvinisme” het deur die jare ongelukkig ‘n baie negatiewe konnotasie begin kry. In S.A. as jy praat van Calvinisme, staan baie mense se hare regop en wil niks daarvan weet nie want mense wat roem in hulle Calvinisme, het lankal opgehou om Calviniste te wees maar hulle gebruik nog die naam, hulle vaar nog onder die vaandel. Daarom hou ek persoonlik nie van die woord Calvinisme nie. As ons bv. sekere literatuur van oorsee lees, dan sal ons vind dat sommige boeke verwys na “Calvanism”. Kom ons laat hierdie begrip nou daar. Ek hou ook nie van die woord “Gereformeerd” nie omdat die woord ook in ons land allerhande konnotasies begin kry het. Dit is histories belaai en as jy vandag praat van Gereformeerd beteken dit vir een persoon ‘n dopper, en vir ‘n ander N.G. en vir nog ‘n ander beteken dit dit en vir nog ‘n ander dat. Daar is rondom die woord “Gereformeerd” allerhande verwarringe en niemand weet mooi meer wat dit beteken nie. Dis goed as mens wegstuur van hierdie woord af ook. So is daar ook ander woorde. Die woord Hervormd is presies dieselfde. Ek dink dis maar die beste as ons onsself ‘n Reformatoriese gemeente noem.

Woorde – wat is woorde? Dit gaan om waarhede. Dit gaan om realiteite. Ons moet hierdie reformatoriese waarhede nie net koppel aan een of twee mense nie. Hierdie waarhede het oor ten minste twee eeue ontwikkel in die kerk – die kerk van die sestiende en sewentiende eeu, en mettertyd is hierdie waarhede ook saamgevat in die groot belydenisskrifte. Die belydenisskrifte wat vir ons Afrikaanssprekendes die bekendste is, is die Drie Formule van Enigheid, Die Nederlandse Geloofsbelydenis, Die Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls maar in die Engelse wêreld is die Westminister Confession meer bekend en ons eie belydenis geskrif, die 1689 Baptiste Belydenis. Hierdie Belydenisgeskrifte is basies eenstemmig in die teologie wat hulle probeer formuleer en saamvat. Hulle verskil feitlik glad nie. Die van u wat, toe ons dit deurgewerk het, dit vergelyk het met ander Belydenisgeskrifte sou agtergekom het hoe dit ooreenstem. Die feit bly staan dat hierdie Belydenisskrifte en waarhede oor ‘n tydperk van ongeveer 200 jaar ontwikkel het in die gemoedere en denke van baie briljante teoloë. Dit was asof die Here die kerk oorspoel het met mense wat fenominale intellekte gehad het maar ook in die praktyk van honderde gemeentes in Europa en die Britste eilande.

In 1662 is daar oor die 2000 predikante uit die Anglikaanse kerk uitgesit omdat hulle Reformatories was – net in Engeland. Wat ek wil sê is dat hierdie waarhede is wat oor geslagte heen kom, wat in honderde, duisende gemeentes gepreek is deur honderde predikers. Mettertyd het die kerk egter weer begin deformeer en het allerhande goed begin inkruip. Ook in ons land op die oomblik is daar allerhande skewe leringe en ons kom net egter dat die kerk in ‘n chaotiese toestand is en dat dit uitkring in S.A. Prof. Pieter Potgieter het verlede jaar (1994) by die Algemene Sinode in sy pioniers toespraak, ‘n baie sterk oproep gemaak op die predikante van die N.G. kerk om duidelik standpunt in te neem want het hy gesê, die lidmate van die N.G. kerk is verward en hulle weet nie waarheen nie. Dit is die Moderator self. Wat hy daar gesê het van die N.G. kerk is waar van feitlik die hele kerklike spektrum in S.A.

Nou is die Here so goed vir ons omdat baie van ons net weer deur Sy genade, by hierdie oorspronklike waarhede uitgekom het. Dit is asof ons gelei is deur die Gees om terug te gaan en te sê, wat glo ons werklik?

Julle ken my eie geskiedenis van hoe ek in 1990 in ‘n tyd van krisis net weer moes gaan vra, wat is die A B C van my geloof en ek moes teruggaan na my wortels en fondamente toe en die vraag vra, wat is onderhandelbaar in die geloof. Wat is vaste bakens en ankerpunte van my geloof. En in my eie lewe het dit hierdie fenominale verandering gebring. ‘n Verandering wat naas my wedergeboorte 20 jaar gelede, die mees ingrypende gebeurtenis in my lewe was. Baie van julle het soortgelyke getuienisse.

As ons dus praat van die Reformatoriese geloof, wat is die hoofmomente daarvan?

l. Die Reformasie was destyds in die eerste instansie, ‘n herontdekking van die Woord van God. Sola Scriptura was die wekroep gewees. Sola beteken alleen die Woord van God. Vir honderde jare vantevore het dit wat deurgegaan het as die kerk die Woord genegeer. Die Woord was eenkant toe geskuif, die Woord was geslote. Dit was net in Latyn en net mense wat tot die Priesterstand toegelaat was, kon die Woord verklaar. Vir die ander was die Woord totaal geslote en die eerste ding wat die Reformatore ontdek het, was die Woord van God. Luther het gesê dat hierdie Woord moet na die mense toe gaan. Diegene wat die geskiedenis ken sal weet dat toe hy gevlug het, hy in enkele maande, die Bybel in Duits vertaal het. ‘n Fenominale prestasie wat menslik gesproke die verstand te bowe gaan. En die Bybel is gedruk en versprei by die duisende in Europa. In Engeland is dit vertaal en elders. Dit het natuurlik ‘n totale verskil gemaak want toe kon die man op straat die Bybel begin lees. Die gewone man, en wat hulle daar ontdek het, het hulle lewens verander. Onmiddellik verander, dit sal jy weet – as jy die Bybel begin lees, verander dit jou lewe. Onder die leiding van hierdie mense wat deur die Here opgewek is, het die mense destyds die Bybel begin verstaan vir wat dit is, God se besondere openbaring en hulle het gesê Sola Scriptura want die Roomse Kerk het gesê die Bybel plus tradisie; die Bybel plus die pous en biskoppe se uitsprake ens. Die Reformatore het gesê nee, ‘n menslike tradisie en die pous se uitsprake beteken niks nie, die Woord van God alleen. As ons sê ons is ‘n Reformatoriese gemeente, is dit die eerste fondamentsteen van ons geloof. Die Woord beteken nie enkele begrippe uit die Woord uit nie maar die totale Woord. Dit is baie belangrik wat ek nou sê, nie net die Nuwe Testament nie maar ook die Ou Testament. Nie net sekere uitsprake vanuit die Nuwe Testament nie, nee die hele Nuwe Testament. Nie net wat ons pas nie. Nee, nee, alles en wat meer is, die Reformatore het gesê hierdie Woord, is skepping van die Here God self. Dit kom van Hom af en dit is ‘n geintegreerde geheel. Daar is dus niks in die Woord wat in disharmonie met die res van die Woord is nie.

Soos die natuur wat in ‘n wonderlike harmonie en balans verkeer, so is die Woord van God ook – in wonderlike harmonie en balans. Dis presies net so. U sal weet, die oomblik wanneer dit jou uitgangspunt is en ons Skrif met Skrif vergelyk om dit te verstaan, dan begin die Woord van God vir jou oopgaan op nuwe maniere. Baie van julle getuig daarvan. Gisteroggend het ek ‘n boek van die O.T. begin lees en dit het my so opgebou, gestig en nuwe perspektiewe oopgemaak. ‘n Ou Testamentiese boek wat ‘n duisend jaar voor Christus geskryf is, wat absoluut die wêreld van ons dag aanspreek. Die Woord van God is kosbaar, kosbaar, kosbaar. Jy kry nie genoeg uit hom uit nie, jy wil altyd dieper myn, jy kom nie by ‘n boom uit nie, jy put hom nooit uit nie – die Woord van God. Geintegreerd, ja progressief in die openbaring, en kulmineer in Jesus Christus uiteindelik. En hierdie Woord – as die Reformatore gesê het, Sola Scriptura, alleen die Woord van God het hulle daarmee gesê dat hierdie Woord die enigste gesag was vir die kerk. Ons ken geen ander gesag, ons herken geen ander gesag as die Woord van God alleen wat die finale maatstaf is.

Want hierdie Woord van God is totaal betroubaar en die finale Woord. Hulle het ook verder gegaan en gesê die kanon, die openbaring van God is afgesluit. Dis kardinaal belangrik dat ons hieraan vashou. Dis afgesluit. God het met die laaste boek van die Nuwe Testament, die Openbaring van Johannes, het Hy sy besondere openbaring aan die kerk afgesluit. Dis klaar. Hy het vir ons gesê wat Hy wou sê. Daarmee het Hy ook gesê dis genoegsaam. Ons het alles wat ons nodig het om te weet in die Woord van God. Ons sê dus saam met die Reformatore as dit kom by ons geloof, as dit kom by ons praktyk, dan gaan ons na die Woord van God toe en daar het ons alles wat ons nodig het. Dis genoegsaam. Ons het nie allerlei dinge buite die Woord om nodig nie. Die Woord van God alleen. Ons meet dus alles, ook in die gemeente aan die Woord. Dit kom in allerlei dinge tot uitdrukking. Bv. die vraag wat is toelaatbaar in die byeenkoms van die gemeente? Sommige sal sê alles wat nie verbied word in die Woord nie; die Reformatore het gesê: net dit wat in die Woord gebied word. Kan u verstaan dat dit ‘n totale verskil maak? Want as ons sê net dit wat in die Woord gebied word, dan plaas dit ons gemeentelike byeenkoms binne bepaalde grense en binne daardie grense beweeg ons maar as ons sê alles wat nie in die Woord verbied word nie, dan kan ons enigiets inbring solank die Bybel nie daarvoor praat nie. Die Bybel praat oor baie dinge. Ek het nog nie in die Bybel gelees van motors ens. nie. As ons sê die Bybel is genoegsaam, dan doen ons net wat die Woord vir ons voorskryf en die beginsels wat ons uit die Woord kan ontwikkel.

Hoe weet ons die Woord is die hoogste gesag? Ek het voor my bekering verstaan dat hierdie Bybel is of die Woord van God of dis nie. Die Bybel sê van homself dat dit die Woord van God is. As hy dus nie die Woord van God is nie, of as gedeeltes daarvan nie die Woord van God is nie, dan kan jy niks daarin vertrou nie. As die Bybel dan nie betroubaar is nie, is dit die grootste bedrog in die geskiedenis en behoort ek dit met minagting uit my huis te gooi. Maar as hierdie Boek inderdaad die Woord van God is, dan moet ek kennis neem omdat dit die spreke van my Skepper en my Regter is voor Wie ek eendag moet gaan staan. Dan bevat dit Sy openbaring aan my en is daar in my lewe nie ‘n belangriker boodskap as hierdie nie en is dit ook die belangrikste boek in my lewe. Tussengrond is daar nie; daar is nie ‘n grys area nie. Dis of die een of die ander. Deur die genade van die Here het ek uiteindelik tot die oortuiging gekom dat dit die Woord van God is omdat die Heilige Gees dit in my gewerk het. Ja, ek kon na baie goed kyk en dit vergelyk, maar soos Calvyn dit ook uitgewerk en gesê het, is die finale sekerheid wat ‘n mens het dat die Bybel betroubaar is en dat dit die Woord van God is, dat dit gewerk word deur die Heilige Gees in jou hart. Dit was my ervaring en dis ook julle ervaring. Hoe kan dit wees dat ‘n mens jou lewe absoluut bou op ‘n boek wat tussen twee- en drieduisend vyf honderd jaar gelede geskryf is? Intelligente, geleerde mense, nugter mense, volwasse mense, kan dit wees dat ons hierdie Boek wat eeue, geslagte, millenia gelede geskryf is, dat ons dit aanvaar as ons hoogste gesag? U sien ek het destyds besef dat tradisie, die feit dat ek grootgeword het in ‘n kerk, dit is nie genoeg rede nie, want Moslems glo in hulle kultuur en Hindus in hulle kultuur. Ek kan nie net sê wel, ek het nou in die kerk grootgeword nie. Dis nie genoeg nie. Ek het ‘n innerlike werk van die Gees van God nodig gehad en vir ‘n periode van agtien maande het ek hierdie verskriklike wroeging gehad – kan ek hierdie Boek vertrou? Moet ek dit uitgooi of moet ek my lewe daarop bou. Deur die genade van die Here het hierdie innerlike oortuiging gekom en sedertdien kan ek eerlikwaar sê dis die belangrikste Boek in my lewe.

Reformatories begin hierby. Sola Scriptura. En ons as gemeente wil dit ons hoogste gesag maak, die hoogste norm vir ons.

2. As ‘n mens na die Woord toe teruggaan, onbevange met ‘n oop, gelowige, nederige hart, dan is die eerste ding wat jou opval as jy die Woord begin bestudeer, God is God. Hy Is. Jahwe. Soos Moses gesê het in Eks. 3. Hy is Soewerein. Dit is dus die volgende fondamentsteen van ‘n Reformatoriese gemeente. Enigeen wat hoegenaamd eerlik is moet erken dat as God nie Soewerein is nie, dan is Hy nie God nie. As jy hoegenaamd daaroor dink, as die mens soewerein is of hy kan doen net wat hy wil en God sê Hy kan doen wat Hy wil, dan het jy twee partye wat teenoor mekaar staan en uiteindelik weet niemand hoe dinge gaan eindig nie. Nee, nee die Here God is Soewerein. Hy is Soewerein omdat Hy die Skepper van alles is en Alleen Eienaar. Dit word oor en oor beklemtoon. Dink aan Jeremia. In Jeremia 18 word hy gestuur om na die pottebakker te gaan kyk. Dan staan daar dat die pottebakker ‘n mislukking gemaak het en dit verander. Die boodskap is dat die pottebakker met die klei kan maak net wat hy wil. Dit moet ons verstaan. Ons is daar ter wille van God. Hy is nie daar ter wille van ons nie. Dit bring ons onmiddellik by die begrip wat ons as gemeente so dikwels hoor, die hele idee dat Hy die Skepper is en ons Sy skepsele. Ons sal tot in ewigheid skepsele bly. Soli Deo Gloria was die volgende wekroep van die Reformasie. Aan God alleen die eer. Dit is wat dit beteken om aan die Soewereiniteit van God vas te hou. Hy is wat Hy is. In alles wat gebeur, neem Hy die inisiatief, nie ons nie. Hy het nie ‘n plan B nie. Volgens Sy ewige raadsplan werk Hy die geskiedenis uit. Die Here God lewe. Hierdie dinge is alles in detail uitgespel, fyn en akkuraat in die belydenisskrifte waarheen ek vroeër verwys. Die Here God is dus Selfgenoegsaam, Hy is onafhanklik, onstuitbaar in Sy raadsplan, Hy werk in besonderhede en hoewel ons nie alles verstaan nie, aanbid ons Hom as sulks en dien ons Hom as sulks.

3. Die derde fondamentsteen is die leerstukke van Sy soewereine genade. Die sogenaamde “Doctrines of Grace” wat vir ons so oneindig kosbaar is want tot die mate wat jy verstaan wie en wat jy was voordat die Here jou gered het, dat jy ‘n sondaar was, en waarheen jy op pad was, tot die mate wat jy verstaan Wie is die God wat jy dien, tot daardie mate word hierdie leerstukke vir jou oneindig kosbaar. Het jy vreugde daarin. Waaroor gaan dit? Ons praat van die leerstukke van God se vrye genade. Ons moet verstaan. Dis hierdie dinge wat die Reformatore nie vir die eerste keer geformuleer het nie, nee, die eerste drie, vier eeue, was hierdie “doctrines of grace” nie so genoem nie, maar geleer, wyd in die vroeë kerk. Hoekom? Hulle het dit by die apostel Paulus en ander apostels geleer. Waar het die apostels dit geleer? By ons Here Jesus Christus. Daarom het Spurgeon, die groot prediker van die vorige eeu gesê dat hy maar net preek wat die Reformatore gepreek het, omdat hulle gepreek het wat die vroeë kerk gepreek het. Die vroeë kerk het gepreek wat die apostels gepreek het en die apostels het weer gepreek wat ons Here Jesus Christus ons groot Profeet gepreek het. God se Groot Profeet, Priester en Koning. Laat ons dus verstaan dat ons nie hier te doen het met iets wat drie, vier honderd jaar gelede vir die eerste maal ontstaan het nie, nee dit gaan terug regdeur na die apostels toe. Na die Woord van God toe. Daarom is dit dat as jy hierdie dinge verstaan, val die Bybel vir jou in plek. Tot die mate wat jy hierdie dinge omhels, tot daardie mate begin die Bybel vir jou inmekaar skuif soos ‘n legkaart. Dis wonderlik. Baie van ons ervaar dit. Dit is die leerstukke van God se vrye genade. ‘n Mens kan dit op verskillende maniere formuleer. Daar was aan die begin van die l7de eeu in Holland ‘n man met die naam van Jakob Arminius. Hy het weggewyk van die Reformatoriese leringe en hy het die Soewereiniteit van God ontken en ook ontken dat die mens so diep in sonde geval is as wat die Bybel sê. Toe hy oorlede is, het sy dissipels vyf punte geformuleer wat hulle wou gehad het algemeen in Holland verkondig moes word. Die owerhede van Nederland het destyds vir die kerk gesê dat hulle bymekaar moes kom in ‘n sinode en standpunt inneem oor hierdie vyf punte. Die gevolg was dus dat die Sinode van Dordtrecht plaasgevind het in 1618 en die Dordtse Leerreëls is geformuleer. As jy praat van die Doctrines of Grace of die leerstukke van soewereine genade – dis in die Dordtse Leerreëls geformuleer. Waaroor gaan dit daarin? Die sinode het teenoor die vyf punte van die Arminianisme, vyf punte van reformatoriese waarheid geformuleer (daar is baie gebreke in) maar kom ons kyk na die vyf dinge. In Engels verwys hulle daarna as TULIP.

T staan vir total depravity
U unconditional election
L limited atonement
I irresistable grace
P the perseverance of the saints

Kom ons sê dit in Afrikaans. Die eerste punt waar dit begin, is die radikale verdorwenheid van die mens. Die Woord leer baie duidelik dat die mens in sonde geval het, dat hy dood is in sy sonde en misdade Ef. 2:1. Dwarsdeur die Bybel word dit geleer en dat die mens dus nie in staat is om self die Here God te dien in gees in waarheid; om die Here lief te hê en in Hom te glo nie.

Die tweede punt is die uitverkiesingsleer. Dat die Here God voor die grondlegging van die aarde, mense uitverkies het om Sy eie te wees. Mense wat Hy verkies het om nie te kry wat hulle verdien nie. Die res het Hy net gewoon gelos. Dit is ‘n leerstuk wat baie kontroversieël is. Mense wat God nie ken soos Hy is nie, sukkel hiermee maar die van ons wat weet waaruit die Here ons gehaal het, wat kan onthou hoe verdorwe ons was voordat die Here ons gered het, toe ons geen aptyt vir die dinge van die Here gehad het nie. Vir ons wat die Here God in Sy heerlikheid ontmoet het, is dit nie moeilik om die uitverkiesing te aanvaar nie. Want ons weet dat ons die Here nie gesoek het nie. Ons het Hom lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. Hy het op ons lewens beslag gelê. Hy het gekom – ons het nie Sy lig binnegestap nie, Hy het ons duisternis binnegebars. Ek het geen voorneme gehad om Hom lief te hê en te dien nie. Ek was tevrede om kerk toe te gaan want dit was “in” en aanvaarbaar, maar meer? Geen behoefte nie. Onvoorwaardelike uitverkiesing. Die Here kies ons nie uit op grond van sekere verdienstes wat Hy in ons sien nie. Hy kies ons uit omdat Hy ons uitkies. Omdat Hy God is.

Derdens. Limited atonement. Ek hou nie van die woord “limited” nie, maar spesifieke of toegespitste versoening – dat Jesus Christus in die eerste instansie gekom het om die mense wat die Here God, sy Vader, aan Hom toevertrou het, se verlossing te kom bewerkstellig. Die Bybel is vol daarvan. In die Johannes evangelie sê Hy oor en oor, “Ek het gekom vir die wat U my gegee het, My Vader.” Joh. 6, Joh. 10; Joh. 17. Die versoeningswerk van ons Here Jesus Christus, was nie iets wat die redding van alle mense net potensieël moontlik gemaak het nie; dit was genoegsaam vir die redding van alle mense maar dit was toegespits en in die eerste instansie gerig op die uitverkorenes wat aan die Here God behoort van ewigheid af.

Vierdens. Irresistable grace. Onweerstaanbare genade dat die Here God as Hy op jou beslag wil lê, lê Hy op jou beslag. Ja, jy kan stry en baklei. Baie van ons het vir maande en selfs jare vasgeskop, en jy wou nie, maar die Here het my gebreek. Jeremia het ook gesê dat die Here te sterk vir hom was en hom verkrag het. Hy gebruik die woord daar. Die Here God is te sterk vir ons. Hy verander jou hart en maak jou nuut. Jy is Syne.

Vyfdens. Uiteindelik die “perseverance of the saints”. Die volharding van die heiliges. Dit sê nie eenmaal gered, altyd gered en nou kan jy maar leef soos jy wil nie, nee, dis glad nie wat dit sê nie. Dit sê, diegene op wie die Here God beslag gelê het, sal heilig volhard tot die einde toe. Let op, hulle sal heilig volhard tot die einde toe. Hulle sal gered word.

Dit is die leerstukke van soewereine genade. Ons moet verstaan dat die Bybel vir ons leer dat God se verlossingswerk ‘n heerlike, ewige, geintegreerde eenheid in spesifieke mense se lewens is. Ons beleef dit nie altyd so nie. Ons beleef dit anders. Ons weerstaan die Here, ons struikel en val en mense val uit die geloof uit – die gelykenis van die saaier. Ons moet net baie duidelik verstaan dat ons, die reformatore en die Bybel nie preek dat omdat God soewerein is, die mens nie ‘n verantwoordelikheid het nie. Met dieselfde krag wat die Bybel vir ons sê dat God soewerein is, sê dit ook jy is verantwoordelik. Ons kan hierdie dinge op ‘n manier bymekaar kry en ons wil net sê dat ons nie hiper-Calviniste is nie. Hiper-Calvinisme wat eintlik ‘n tipe van valse fatalisme is wat sê “wel as ek uitverkies is kan ek maar leef soos ek wil, die Here God sal my red” is ‘n kettery. Of as ek nie uitverkies is nie kan ek maar probeer so hard as ek wil, ek het nie ‘n kans nie, dis kettery. Dis nie wat die Bybel leer nie en ook nie wat die Reformatore geleer het of die leerstukke van Soewereine Genade leer nie. Die Leerstukke van Soewereinde Genade leer dat die Here God red sondaars op so ‘n wyse dat hulle wil nooit nooit verkrag word nie. Hy verander hulle harte en uit hulle harte verander Hy hulle wil en hulle dien die Here met blydskap.

Daar is nou uiteraard ruimte vir baie misverstande omdat ons net vanaand vinnig daarna kyk.

Die Reformatore het destyds agtergekom dat die Here sy kinders red en roep om in die hele wêreld hulle lig te laat skyn en sout te wees. Die Rooms Katolieke Kerk het die idee gehad en dit gepreek dat jy eintlik heilig is as jy in ‘n klooster sit. Dis eintlik ‘n minderwaardige geloofslewe as jy nog ‘n sogenaamde sekulêre werk doen. Hierdie dinge is baie aktueel in ons dag. Daar waar ons is, die markplein en die laboratorium, en die regbank en waar ook al, daar moet ons ons lig laat skyn. Hierdie is ‘n heerlike bevrydende waarheid wat gekom het deur die Reformatore en is mense wat reformatories in hulle denke is, nie “super geestelik” nie. Is nie mense wat hulle afskei nie. Nie mense wat gril as hulle ‘n sondaar sien nie, want die Here Jesus het nie gegril nie. Hy het nie weggeruk toe ‘n prostituut sy voete kom was het met haar trane nie. Die Fariseërs het vir Hom gesê dat Hy nie saam met sondaars moet eet nie. Jesus het Hom nie daaraan gesteur nie. Hy het saam met hulle geëet. Hy het nie probleme daarmee gehad nie. Hy het geweet daar moet Hy sy lig laat skyn. Die Reformatore het met dieselfde oortuiging gesê, om uit te breek uit die kloostermentaliteit het nie beteken dat die kerk nou wêreldgelykvormig mag wees nie, m.a.w. hulle moet ‘n gesonde balans handhaaf. Hulle is in die wêreld maar nie van die wêreld nie. Juis omdat ons nie van die wêreld is nie, kan ons ‘n effek hê in die wêreld. In die mate wat ons Jesus Christus in radikale gehoorsaamheid dien, tot daardie mate is ons sout in die wêreld. Dis hoekom Jesus in die bergpredikasie sê salig salig, 9 keer, Hy beskryf ‘n Christen, en dan onmiddellik gaan Hy voort en sê dat hulle die sout van die aarde en die lig van die wêreld moet wees. Tot die mate dus wat ons leef soos wat die Saligsprekinge ons beskryf, in daardie mate is ons lig van die wêreld en die sout van die aarde. Nie van die wêreld nie maar inderdaad in die wêreld. Nie ‘n asketiese onttrekking uit die wêreld nie maar net so min ‘n wêreldgelykvormigheid. Ons is dus voete op die grond, natuurlike mense. Eg.

5. Die rol van die wet in die Christen se lewe. As die Bybel vir ons sê dat ons nie meer onder die wet is nie, het die Reformatore verstaan, ons is nie meer onder die wet om langs wetsonderhouding ons saligheid te verdien nie, maar ons het wel die wet as ‘n riglyn vir ‘n lewe van dankbaarheid. Ons verstaan dat die Here God een, ewige standaard het van die begin tot die einde toe. ‘n Standaard van etiek of hoe ons moet lewe. Dit het nooit verander nie. Wat ‘n heilige lewenswandel was in die dae van Moses, is ‘n heilige lewenswandel in ons dag. Dit word in ekstrak saamgevat in die tien gebooie en die hele Skrif se ontvouing daarvan. Ons verstaan dit en ons verstaan ook dus dat wetsgehoorsaamheid ‘n teken van redding is. Nie omdat die wet vir ons die middel tot redding is nie, maar die gevolg van reddding. Nie die middel tot die lewe nie, maar ‘n manier van lewe, dis die wet. Daarom die merkteken van redding.

Hoe kan ons weet ons het God lief? Johannes antwoord “Hieraan kan ons weet dat ons God liefhet, as ons sy gebooie gehoorsaam.” Dis sy antwoord in Joh. 14. Gehoorsaamheid. As ons praat van die rol van die wet praat ons onmiddellik van ‘n radikale gehoorsaameheid. Op so baie plekke in die wêreld word die reformatoriese geloof geïdentifiseer met ‘n wêreldgelykvormige, slap, lustelose, dooie ortodoksie. Die reformatore het nie dit gepreek nie. Lees maar die belydenisskrifte. Die ware kerk is as almal die Here Jesus Christus gehoorsaam en dien. Sonder ‘n heilige lewe sal niemand God sien nie. Die Bybel sê dit en die Reformatore het dit gesê en ons roeping is om dit vandag te sê.

6. Die belangrikheid van prediking in ‘n gemeente. Dat die Here God prediking gebruik om mense tot die geloof te bring. Dit is die middel wat Hy gebruik om mense te roep uit die dood tot die lewe. Dit is ook die middel wat Hy gebruik om die heiliges op te bou in die allerheiligste geloof. Daarom is dit nodig dat ons as gelowiges gereeld maar weer onder die geklank van die Woord sit. Die Woord is ‘n genademiddel, en die prediking is ‘n genademiddel en die Here God het dit so verordineer. Wat is prediking? Dit is Skrifuitlegging en die toepassing daarvan.

7. Die kerk. Die Reformatore het ‘n baie definitiewe kerkbeskouing gehad. Hulle het die lig van die Woord laat val op alles en as die lig van die Woord laat val en vra wat is die kerk? dan kom jy tot definitiewe gevolgtrekkings. Die kerk van die Here is hulle wat uitgeroep is uit die wêreld om hulle af te skei van die sonde van hierdie wêreld, nie van die kontak van die wêreld nie maar van die sonde van die wêreld. Dis hulle wat eenkant toe geroep is om die Here gesamentlik te dien. Daarom is die kerk vir die Reformatore wat helder en duidelik gedink het, en dit het veral ontwikkel in die tyd van die Puriteine, was die kerk ‘n gemeenskap van heiliges. ‘n Gemeenskap van dissipels van die Here Jesus Christus. Ons kan ook daarvan praat as ‘n “believer’s church”. Dis op hierdie punt waarom ons ‘n Baptiste gemeente is. Ons glo dat die kinderdoop die neiging het om ‘n volkskerk daar te stel want jy vang hulle wanneer hulle klein is. Dit kom van Konstantyn se dae af. As jy gelowiges doop volgens die Bybel, dis die belydenis wat afgelê moet word, dan het jy soveel van ‘n beter kans om ‘n kerk van heiliges te bou. Op hierdie punt het die Reformatore natuurlik verskil. Sommige van hulle was kinderdopers en ander was belydenisdopers. Maar ons het as gemeente hierdie dinge vir ons uitgewerk en standpunt ingeneem en het ons as belydenisskrif die Baptist Confession, nie die Drie Formuliere van enigheid waarvoor ek die hoogste agting het nie, maar nie 1689 Confession, omdat ons Baptiste is en dit hang saam met ons kerkbeskouing. Ons glo dat die kerk van die Here uitgeroep is om ‘n groep mense te wees wat heilig voor Hom lewe. Die kerk is dus ‘n “believer’s church”. Die Reformatore het ook duidelik verstaan dat ‘n plaaslike gemeente selfstandig is. As jy die Dordtse kerkorde gaan lees, sien jy dat daar ‘n aksent is op die selfstandigheid van die plaaslike gemeente, omdat Jesus Christus die Hoof van elke gemeente is.

Dit is die Reformatoriese geloof. Ons het die roeping om ‘n lewende gemeente te wees. Ons mag nooit roem dat ons die waarheid het en verval in ‘n dooie ortodoksie nie. Ons harte mag nie koud en dood wees nie. Ons moet mense wees wat hierdie dinge bely en dit uitleef, ons moet mense wees wat die Here soek; ons moet mense wees wat Hom ken; ons moet mense wees wat die waarheid najaag ter wille van Sy eer; ons moet mense wees wat hierdie waarhede uitdra sodat talle mense Hom sal dien tot eer van Sy Naam. Mag die Here ons daarvan bewaar dat ons so behep sal word met waarhede en ortodoksie dat ons die Here van die Waarheid sal vergeet. Mag die Here ons die genade gee om met vurige harte Sy waarheid en Sy Woord lief te hê. Mag Hy ons oprig om waardig te wees al is dit op ‘n klein nietige wyse, om hierdie situasie waarin ons leef ons geslag te dien volgens God se raad. Mag ons met talle ander wat hierdie waarheid net so lief het soos ons, saam met hulle die Here te eer daarin dat ons Hom in gees en in waarheid dien.

  • Posted by Charl Coetzee
  • on June 3, 2014
  • Comments are off
  • Articles ,
Read More