default logo

Moet ons nog Die Christen se Reis lees?

Moet ons nog Die Christen se Reis lees?


Het ‘n ‘outydse boek’ soos Die Christen se Reis nog aanspraak op ‘n plek op die moderne Christen se boekrak? Het die boek wat in die vorige eeu bekend was as die mees gelese boek naas die Bybel in die Engelse taal, nog iets vir jou en my te sê?

In ‘n onlangse artikel in ‘n internasionale Christelike tydskrif (“Why we should read The Pilgrim’s Progress”) stel die skrywer Brian B Hedges ‘n baie oortuigende saak vir die lees van dié klassieke boek. Hier volg ‘n vry vertaling van sy redes.

1. Eerstens beeld die boek op ‘n treffende wyse die geestelike reis van die ware Christen uit. Elke Christen het bemoediging nodig op sy lewenspad. Dit is waar van my eie lewe en ek het al dikwels krag daaruit geput om Bunyan se boek te lees of daaroor na te dink.

Ek kan my met Christen vereenselwig, omdat ek self een is en beide sy oorwinnings en sy neerlae maar net te goed ken. Ek het ook ‘n Las (van sonde en skuld) op my rug gedra wat net by die kruis van Christus verwyder kon word. Ek het ook al in die Moedverloormoeras beland en moes deur Hulp daaruit gehelp word. Ek was al in die Kasteel van Twyfel, ek is deur die reus Moedverloor gemartel en het uit sy kelder ontsnap met die sleutel van Belofte. Ek het my boekrol verloor omdat ek toegelaat het dat my waaksaamheid verslap en met Apollion se vurige pyle in die Vallei van Vernedering kennis gemaak. En soos Getrou vir Christen gedoen het, het baie ander gelowiges my al versterk.

Bunyan se verhaal is my verhaal. Dit gaan oor my eie lewe, en dié van elke Christen. Dis een rede waarom ek so lief is vir die boek.

2. ‘n Tweede rede is die pragtige woordprentjies wat in die verhaal ingeweef is. Natuurlik is die hele boek ‘n allegorie, maar oral word besonder treffende beelde gebruik om belangrike Skrifwaarhede uit te beeld.

Christen sien byvoorbeeld in Uitlêer se huis “‘n baie groot kamer wat toe is onder die stof omdat dit nog nooit uitgevee is nie”. ‘n Man probeer dit uitvee, maar dit maak so baie stof dat Christen amper verstik. Maar nadat ‘n meisie water op die vloer gesprinkel het “is dit maklik om die vertrek uit te vee en skoon te maak.” Christen wil natuurlik weet wat dit alles beteken en Uitlêer verduidelik: “Hierdie kamer is soos ‘n mens se hart wat nog nooit deur die genade van die evangelie skoon gemaak is nie. Die stof is die erfsonde van Adam en die verkeerde dinge wat sy hele wese besoedel.
Die een wat eerste begin vee het, se naam is Wet. Maar die meisie wat die vloer met water besprinkel het, se naam is Evangelie. Jy het gesien hoe die stof die hele vertrek vol gewaai het toe daar begin vee is. Die plek kon glad nie skoon kom nie en jy het amper versmoor. Dit is om vir jou te wys dat die wet nie jou hart kan reinig van die sonde nie maar dit juis eerder vererger en laat toeneem. Die wet wys vir jou die sonde uit en veroordeel dit, maar gee jou nie die krag om dit te oorwin nie. Jy het gesien hoe maklik die vertrek skoon gekom het toe die vrou dit met water besprinkel het. Net so oorwin en onderwerp die wondersoet werking van die evangelie die sonde in jou. Jou hart word gereinig en geskik gemaak vir die Koning van Heerlikheid om daarin te bly.”

Die metafoor verduidelik die werking van die morele wet en sy verhouding tot die evangelie op ‘n duideliker en treffender wyse as enigiets wat elders daar oor die onderwerp geskryf is. En dit is maar een van die vele woordprentjies wat Bunyan gebruik om Bybelse lering en Christelike praktyk aan ons te verduidelik.

3. Nog ‘n waardevolle bydrae van die boek is dat dit so duidelik die verskil tussen ware en vals gelowiges uitwys. Bunyan wys op ‘n diepsinnige manier die verskil uit tussen die egte Christen met sy worsteling en strydvrae en die vals belyer wat geen werklike geestelike verandering ondergaan het nie. Kyk maar na die vele karakters wat Christen op sy tog teëkom. Daar is die positiewe voorbeelde van Evangelis, wat vir Christen die pad na die Nou Poort toe wys, Getrou wat ‘n martelaar word by die Kermis van Ydelheid, en dan nog die vier deugsame vrouens in die Pragtige Huis, Oordeelkundig, Wysheid, Vroomheid en Liefde.

Dan is daar natuurlik ook die negatiewe voorbeelde soos Hardkoppig wat met Christen die spot dryf omdat hy op sy pelgrimsreis na die Hemelse Stad toe vertrek, en Ja-broer wat eers besluit om saam met Christen te reis maar hom dan met die eerste teken van moeilikheid (in die Moedverloormoeras) in die steek laat. ‘n Mens dink ook aan iemand soos Spraaksaam wat so lekker kan praat oor godsdienstige sake: “Want om oor hierdie dinge te praat is baie voordelig. Deur dit te doen kan ‘n mens baie kennis opdoen, nie net van die tydelike dinge op aarde nie, maar veral van die dinge van die hemel in die algemeen. Dit is nodig om meer spesifiek te weet van dinge soos die wedergeboorte, die nutteloosheid van werke, die noodsaaklikheid van Jesus se geregtigheid en vele meer.” Maar soos Christen tereg vir Getrou sê: “Hy praat van gebed, bekering, geloof en die wedergeboorte, maar dit is al wat hy kan doen, net praat daaroor. … Hy weet so min van geloof af as wat die wit van ‘n eier smaak het.”

Ons lees ook van Demas wat op die “aangename vlakte” Gemak gebly en hulle oorgehaal het om na die Heuwel Wins toe af te draai, waar daar ‘n silwermyn was. Dan was daar nog Onkunde wat glo dat hy ‘n standvastige geloof het, want “sy hart oortuig hom daarvan.” En toe hy gekonfronteer word met die teksvers: “Daar is niemand goed nie, nie eens een wat goed doen nie,” sê hy: “Ek sal nooit glo dat ek so sleg is nie.”

Mense onderskei nie meer maklik tussen opregte en vals Christene nie. Iemand wat sê “hy het Christus aangeneem” word outomaties beskou as ‘n Christen, ongeag of sy leefwyse enige verandering toon. ‘n Man mag die naam van Christus bely sonder om enige liefde vir God, heiligheid, die Bybel, of die hemel te toon, en steeds as ‘n Christen geag word. So ‘n mens is volgens Bunyan nie ‘n ware gelowige nie, maar ‘n skynheilige.

4. Die tema van Pelgrim is die volharding van die gelowiges.
Die leerstelling van “die volharding van die heiliges” het in die vorige eeu grotendeels plek gemaak vir ‘n afgewaterde “behoud van die heiliges” of die halwe waarheid “eens gered, altyd gered”.Dat God wel sy heiliges behoed, is ‘n korrekte en baie waardevolle leerstelling. Ons word inderdaad “deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word” (1Petrus 1:5).
Dit is ook waar dat ‘n mens wat ‘n opregte bekering beleef het, nie weer sy redding kan verloor nie. Die probleem met hierdie begrippe is egter nie met wat hulle sê nie, maar wat hulle verswyg. Daar is ‘n siening dat God sy mense nie van hulle sonde nie, maar in hulle sonde bewaar. Vir hulle beteken “eens gered, altyd gered” dat ‘n mens maar net hoef “te besluit vir Jesus”, ‘n kaartjie te onderteken, gedoop word of “Jesus in sy hart in te nooi”, en hy het ‘n vrypas hemel toe, ongeag hoe hy daarna lewe. Dit is Antinomianisme. Bunyan se boodskap – en dié van die Woord – is heeltemal anders.

Die Bybel leer ons: “Maar wie tot die einde volhard, sal gered word” (Matt 24 :13). In 1 Tim 6:12 is die aansporing: “In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal.” en in Heb 6:12: “Julle moet dus nie traag word nie, maar die voorbeeld navolg van dié wat deur geloof en geduld deel gekry het aan die dinge wat God beloof het.”
Jesus self het gewaarsku: “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Matt 7:21-23). Job bevestig: “Wie reg het, loop sy pad, wie rein voor God is, neem toe in krag” (Job 17:9) en Paulus sê onomwonde dat net dié wat “vas en sterk bly staan in die geloof” en hulle nie “laat losruk van die hoop” wat in hulle “gewek is deur die evangelie”, met God versoen is.

Dit is met ander woorde net dié wat in geloof en heiligheid volhard, wat bewys dat hulle werklik gered is. Dit is ‘n belangrike waarheid dat nie een van Christus se lammers verlore sal gaan nie (Joh 10:28). Dit is ook net so waar dat sy skape Hom volg (Joh 10:27).

Dit gaan by die Pelgrim se reis oor die volharding van ‘n heilige. Bunyan kon net sowel die titel verander het na:”Die Pelgrim se Volharding”. Die verhaal van Christen se gevaarlike reis illustreer maar net weer die waarheid van hierdie beginsel in die lewe van elke opregte Christen. ‘n Christen se lewe is eintlik ‘n reeks gevegte wat in die krag van Christus geveg moet word. Daar sal natuurlik neerlae wees – net soos Christen in die Moerverloormoeras geval het, gesondig het deur na Meneer Wêreldwys te luister, deur Appollion gewond is en in die kasteel van Twyfel opgesluit is. Maar net soos in die geval van Bunyan se pelgrim word elke hindernis uiteindelik oorkom en maak die Christen vordering op sy pad na die Hemelse Stad.

‘n Vreemde toneel wat hom afspeel in die huis van die Uilêer is ‘n goeie illustrasie van hierdie waarheid. Christen sien “‘n vertrek waar daar ‘n vuur teen die een muur brand. Iemand staan pal by die vuur en probeer dit met water blus, maar dit vlam net erger en hoër.” As Christen vra wat dit beteken, verduidelik Uitlêer: “Hierdie vuur is die genade wat in die hart werk. Die een wat dit met water probeer blus, is die Duiwel. Maar soos jy kan sien, vlam dit net hoër.” Dan gaan wys hy hom waarom dit gebeur: Agter die muur staan ‘n Man met ‘n kan olie in sy hand waarmee hy stilletjies die vuur aanhoudend stook, en hy verduidelik: “Dit is Christus. Hy is gedurig besig om met sy genade-olie die werk wat Hy in jou begin het, te voltooi.Dit maak nie saak wat die duiwel probeer doen nie, die genadewerk in die siele van sy kinders gaan voort.”

Wat ‘n pragtige prentjie van God se werk om ons te help om te volhard! Lees hierdie wonderlike boek. Doen dit meer as een keer. Lees dit biddend en soek deeglik vir die talle geestelike lesse wat dit bevat. Lees dit om jou eie hart te ondersoek en jou te bemoedig op jou geestelike pelgrimstog. Dis ‘n eenvoudige verhaaltjie en dalk ‘n bietjie outyds vir die gesofistikeerde leser van die 21ste eeu, maar dit is ‘n rare ondervinding vir iemand met ‘n liefde vir die geestelike waarhede van die evangelie.

  • Posted by Charl Coetzee
  • on June 3, 2014
  • Comments are off
  • Articles ,
Read More